Inhoud van die ‘Boeke - Fiksie’ Kategorie
Drome kan Waar Word
Deur Edna Cane
Sheree Stiler is ‘n jong Christenmeise in Suid-Afrika wat met haar lewe probeer voortgaan, sewe maande nadat haar kêrel Ricardo in ‘n skietongeluk gesterf het.
Sheree het ‘n paar groot drome oor wat sy met haar lewe vorentoe wil bereik: Sy wil haar eie boek skryf, sy wil vir ‘n wêreldbekende Britse popgroep liedjies skryf, sy wil haar eie hotel oopmaak, en sy wil ook haar ware man ontmoet.
Loeloeraai
Deur C. J. Langenhoven
Loeloeraai, wat oorspronklik in 1923 uitgegee is, is heel moontlik die eerste Afrikaanse verhaal in die wetenskapsfiksie-genre.
Die meeste van die kleurvolle karakters in die boek is ou bekendes uit Langenhoven se ander verhale, soos Kerneels, Vroutjie, Engela, oom Stoffel, Watwo en Herrie, Kerneels se mak olifant. Dan is daar Loeloeraai, ‘n onverwagse besoeker van Venus wat een aand met sy ruimtetuig op Kerneels se werf land. Eers is Kerneels-hulle baie agterdogtig oor die wyse vreemdeling vanuit die buitenste ruim, maar gaandeweg leer hulle dat hy in vrede gekom het. Die gereg wil hom egter in die tronk stop omdat hy die land onwettig binnegekom het…
Pieter Plaasmuis en Stefan Stadsmuis
Deur Beatrix Potter
Pieter Plaasmuis beland per ongeluk in ‘n deftige huis in die stad waar hy gou vriende maak met Stefan Stadsmuis.
Daar is elegante en formele etes, allerhande smullekker kosse om van te droom, gerieflike slaapplek… maar daar is ook ‘n kat wat muise jaag, ‘n kok wat nie van muise hou nie, ‘n vreeslike gerumoer die hele dag lank…
Soektog na Liefde
Deur Edna Cane
Alles het begin toe Tracey se ma ernstig siek begin word het.
Tracey moet haar werk as instruktrise by die gimnasium prysgee om haar ma voltyds te kan versorg. Uiteindelik versleg haar ma se toestand sodanig dat Tracey en haar man, Eric, haar ma by ‘n versorgingstehuis moet gaan inboek, met hulle eie geld. Dit begin ook sleg gaan met Eric se werk, sodanig dat sy inkomste heelwat verminder, en van hier af loop alles net skeef in Tracey se lewe.
Somer
Deur C. M. Van Den Heever
Eerste liefde, jaloesie, hebsug en die mens se stryd teen die elemente om sy voortbestaan, word in hierdie novelle van C.M. van den Heever tot ‘n spannende klimaks gedryf.
Dit is hoogsomer en tyd om die koring te oes op Oom Tom se plaas voor die hael dit afslaan. Die plaas het eers aan sy voorsate behoort, maar nou besit hy ‘n deel, sy broer Frans ‘n deel en ‘n buitestaander, Faan, ‘n ander deel. Faan het die stuk grond gekoop van Tom se ander broer wat uitgeboer het. Faan se seun, Hannes, het ‘n ogie op Tom se pragtige sewentienjariger dogter, Linda.
Totsiens aan Gister
Deur Edna Cane
Die tequila queen, die Pretoria-prinses, the one and only, soos die liedjie sê. Dít is hoe Zani Calitz haarself graag beskryf. Sy voer ‘n sorgelose bestaan in Pretoria as kelnerin wie slegs vir fooitjies werk. Haar borrelende persoonlikheid en liefde vir gesels sorg egter dat sy nie juis oor geld hoef bekommerd te wees nie.
Zani is verlief op Carlos, maar hy soek net vriendskap, want hy en die groot liefde van sy lewe, Yvonne, het reeds ‘n standvastige verhouding. Zani probeer hard om van Carlos te vergeet deur drankmisbruik, dwelms, kuier, partytjies en harde werk, baie keer met ‘n babelaas op die koop toe.